Blind Faith

Blind Faith I am a author who likes to motivate people. On this page you get to tell your story for everyone have a story to tell.

VAT GOD SE HAND Niemand se pad is maklik nie, en God het ook nooit gesê dit gaan maklik wees nie. Hy het wel belowe dat ...
14/08/2026

VAT GOD SE HAND

Niemand se pad is maklik nie, en God het ook nooit gesê dit gaan maklik wees nie. Hy het wel belowe dat Hy saam met ons sal stap. Wanneer ons Sy hand vat, gee Hy ons die krag om selfs die rowwe, kronkelende paaie te kan stap.

My pad was kronkelend en modderig. Soms het ek so moeg geword dat ek sommer net wou opgee en in die modder bly lê.
As ek d**k aan hoeveel mense ek en die kinders al by gebly het… mense wat goed was en mense wat lelik was. Maar elkeen van hulle het op een of ander manier ’n rol gespeel om my ’n sterker en beter mens te maak.

Daar was baie kere wat ons nie eers geld gehad het om klere of kos te koop nie. Maar God het voorsien. Elke keer. Op maniere wat net Hy kon.

In die modder was ek beslis… maar om daar te bly lê, was nooit ’n opsie nie. Ek moes opstaan en verder stap.

As jy vandag sukkel, kyk ’n bietjie terug na waar jy ’n jaar gelede was. Dalk sien jy nie hoe ver jy gevorder het nie, omdat jy so gefokus is op hoe moeilik dit vandag is.

Wanneer ek na agt jaar terugkyk, sien ek ’n pad sonder God. En dit was die moeilikste pad wat ek ooit gestap het.
Maar vandag klou ek soos gom aan God se hand vas, want ek weet Hy sal Sy beloftes aan my nakom. Hy sal my nooit los nie.
En dit geld ook vir jou.

Jy sal altyd storms op jou pad hê. Daar sal dae wees wanneer jy moeg word en wil gaan sit. Maar moenie opgee nie.

Vat vandag God se hand.
Laat Hom jou beskerm.
Laat Hom jou lei.
Laat Hom die regte pad vir jou wys, sodat jy nie afdwaal nie.
Die pad is dalk modderig, maar jy hoef dit nie alleen te stap nie.

“Ek sal jou nooit begewe en jou nooit verlaat nie.”
(Hebreërs 13:5). Maak die vers joune.

Jackie Jacobs ©️

Baie mense d**k skrywers maak hope geld uit hul boeke… maar die waarheid is dikwels die teenoorgestelde. Nie elke skrywe...
06/08/2026

Baie mense d**k skrywers maak hope geld uit hul boeke… maar die waarheid is dikwels die teenoorgestelde. Nie elke skrywer skryf om ryk te word nie. Dis nie soos in die flieks waar alles perfek lyk met mooi huise, groot sukses en onmiddellike roem nie.

Soms skryf ’n mens uit ’n heel ander plek.
’n Plek van pyn… van gebrokenheid… van oorlewing.
Soms skryf jy omdat jy weet hoe dit voel om stukkend te wees.
Omdat jy weet hoe dit voel om alleen te wees in jou stryd.
En dan word jou woorde ’n hand wat uitreik na iemand anders.
Nie om geld te maak nie…maar om hoop te gee.
Om lig te bring in iemand se donker.
Om te sê: “Jy is nie alleen nie.”
Want party stories word nie geskryf vir wins nie maar hulle word geskryf vir genesing.

Daarom het ek in die begin van die lockdown besluit om te skryf. Die wete dat ek ook iemand anders kon hoop gee deur my ondervinding en ervarings en dit te kan gebruik dmv kort Christelike motiverings stories te skryf, het my laat besef dat God nog nie klaar is met my nie.

Mag Blinde Geloof jou weer hoop bring en mag jy genesing ervaar want niemand verdien om gebroke te wees nie.

Jy is Uniek.
Jy is Geliefd.
Jy is die Moeitewerd.

Jackie Jacobs ©️

BLINDE GELOOFDepressie bestaan.Verwerping maak seer.Vanaf my tienerjare het ek met depressie geworstel. Ek was op honder...
05/08/2026

BLINDE GELOOF

Depressie bestaan.
Verwerping maak seer.

Vanaf my tienerjare het ek met depressie geworstel. Ek was op honderde medikasies maar dit het net tydelik gehelp.
Ek was al baie keer in klinieke opgeneem…
en ek is nie spyt daaroor nie.
Terwyl ander my as “mal” gelabel het,
was dit deel van my genesing.
Vir party lyk dit soos aandag soek…
tot hulle iemand aan selfdood verloor.
Dan kom die verwyte. Dan is dit te laat.

Maar hier is die waarheid:
Ek het geleer dat die Here my enigste
permanente oplossing is. Hy het my uit die diepste moddermoeras gehaal, my vrygemaak van skande en my weer kom herstel.

Moet nooit iemand oordeel nie.
Jy weet nie watter geveg hulle veg nie.
Trauma kom skielik.
Niemand is immuun nie.
Ons almal dra iets… en dit is nie ’n skande nie.

REIK UIT VIR HULP!!!!
Doen dit vir jouself.
Jy is nie mal nie.
Jy is die moeite werd.

Daar is hoop. Jy is nie alleen nie.

Jackie Jacobs ©️

WATTER MASKER DRA JY VANDAG?Van jongs af word baie van ons geleer om maskers te dra.Om stil te bly.Om nie terug te praat...
01/08/2026

WATTER MASKER DRA JY VANDAG?

Van jongs af word baie van ons geleer om maskers te dra.
Om stil te bly.
Om nie terug te praat nie.
Om nie te huil nie.

Ons is geleer dat respek beteken jy moet jou stem stilmaak…dat pyn iets is wat jy moet wegsteek…dat trane swakheid is.
Vir party van ons het dit gekom met harde hande…met woorde wat breek…met vrees wat jou hart stil maak.

En so het ons geleer om ’n masker te dra,
’n glimlag wat nie altyd eg is nie, ’n hart wat in stilte huil, ’n siel wat smag om gesien en gehoor te word.
Ek het ook daardie masker gedra.
Vir jare.
En soms vandag nog.
Want dit is moeilik om te praat
wanneer jy geleer is om stil te bly.

Dit is moeilik om te voel wanneer jou emosies begrawe is. Maar God sien deur elke masker.
Hy sien die trane wat niemand anders sien nie.
Hy hoor die gebede wat jy nie eers hardop kan sê nie.

Die Woord sê:
"Die Here is naby die wat gebroke is van hart" – Psalm 34:18
Jy hoef nie meer weg te kruip nie.
Jy hoef nie meer voor te gee nie.
By God is jy veilig.

Jy kan jou masker afhaal…en net jý wees.
Want Hy het jou nie geskep om weg te steek nie, maar om vry te leef in Sy liefde.
Jy is gelief.
Jy is gesien.
Jy is nooit alleen nie.

Jackie Jacobs ©️

Hoe baie keer gebeur dit nie dat ons so voel nie… asof ons bestaan, maar nie regtig lééf nie. Asof jy in ’n vertrek vol ...
31/07/2026

Hoe baie keer gebeur dit nie dat ons so voel nie… asof ons bestaan, maar nie regtig lééf nie. Asof jy in ’n vertrek vol mense staan, maar tog heeltemal alleen is. Sonder rigting. Sonder hoop. Net… leeg.
Daardie gevoel is werklik. Dis swaar. En dit steel stil-stil jou lig.

Maar hier is die waarheid wat jy nie moet vergeet nie:
Jy is nie verlore nie, jy is net moeg.
Jy is nie sonder doel nie, jy het net die pad vir ’n oomblik uit die oog verloor.

Selfs in daardie stil, donker plek waar dit voel asof niemand jou sien nie… sien God jou. Hy het jou nie hier gebring om jou alleen te los nie. Daar is steeds ’n doel oor jou lewe, al kan jy dit nou nie sien nie.

Hou net aan.
Asem net nog een keer diep in.
Vat net nog een tree vorentoe.
Want selfs die donkerste nag eindig… en lig breek altyd deur.

Jackie Jacobs ©️

Voel jy gebreek… leeg… of asof God ver is?Blinde Geloof is nie net ’n boek nie, dit is ’n ontmoeting met hoop in jou don...
28/07/2026

Voel jy gebreek… leeg… of asof God ver is?

Blinde Geloof is nie net ’n boek nie, dit is ’n ontmoeting met hoop in jou donkerste oomblikke. Deur rou, eerlike stories, diep vrae en kragtige gebede, sal jy weer herinner word dat God jou nooit verlaat het nie… selfs toe jy ged**k het Hy is stil.

Hierdie boek is vir jou as jy moeg is om alleen te baklei.

Vir jou wat weer wil glo… maar nie weet hoe nie.
Laat God jou hart weer aanraak.
Laat geloof jou weer dra.

Kry jou PDF Formaat vandag en begin jou genesingsreis.

Baie vrae, min antwoordeWaarvan hou jy, jou stokperdjies? Waar sien jy jouself oor vyf jaar? Waarvoor is jy bang, jou ui...
21/07/2026

Baie vrae, min antwoorde

Waarvan hou jy, jou stokperdjies? Waar sien jy jouself oor vyf jaar? Waarvoor is jy bang, jou uitdagings? Wie sal jy se, is jy? En so gaan die lys aan.

Wel, in die verlede kon ek nie die vrae beantwoord het nie, behalwe die vraag waarvoor is jy bang? Die vraag het beslis gewen. Bang, bang was ek vir baie dinge en uitdagings was wyd gesaai soos dorings oor my pad. Ek was die kind op skool met min maats, dalk een of twee op n slag. Ek was die stil, teruggetrokke kind wat nooit vra gevrae het in die klas nie en ook niks van konserte gehou het nie. Dit was my manier van veilig wees. Maar ek kan julle wel se, ek was ook geboelie maar daarvoor het ek nie stilgebly of stilgestaan nie.

Op skool het ek geen idee gehad hoe die lewe werk nie, ek het net bestaan. Op hoerskool, wel dinge het effe verander vir my. Ek het geweet ek behoort nie in sekere groepe nie. Een van die haters was ek beslis nie. Ek het altyd geluister. Veral as hulle na my toe gekom het vir raad. Ek was altyd oop vir eerlikheid en het afvlerke aangetrek soos n magneet, terwyl ek self een was. Maar my klein sagter hartjie wou alles en almal help al was ek nog besig om myself te vind en my lewenskoers te probeer verstaan. Ek wou n sielkundige word, maar geld was daar nie en my lewensloop het baie krom paaie gehad met lang dorings. En ja, ek was nie die skerpste kind in die klas nie maar ek het darm geslaag. Op daardie stadium van my lewe was dit goed genoeg aangesien ek by die huis vergelyk was my my sibling. Daarom verpes ek vandag nog onregverdigheid.

Ek ken van om om die berg te stap met stukkende skoene sonder om te vind waarvoor ek soek. Nie lank terug nie, was ek so vasgevang in my eie tronk. Die lewe bestaan elke sekond uit keuses uit en die keuse wat jy maak, gaan bepaal waar jy gaan opeindig. Ek het n ruk terug besluit dat ek genoeg weg gekruip het, genoeg stil gebly het en genoeg myself beperk het om dinge wat ek talent voor het, nie te doen nie of nee te se vir uitdagings.

Dit verg baie volharding elke sekond van die dag en mens moet op jou kniee bly as jy deur die oorlogsveld wil kom. Mens kan dit nie sonder God doen nie, of wel, ek kan nie. Daar is mense wat vir my se ja hulle doen nie die "God en bybel" ding nie. Maar ek, ek weet wat gebeur sonder God in my lewe. Dit bly maar n keuse by almal. Solank ek net gewillig is om te doen wat God wil he ek moet doen, kan ek berge versit en groter lande plant, want dan is die oes groter.

Ek, ek doen die God ding.

Jackie Jacobs ©️

Die Vrou in die Gebreekte SpieëlSy het lankal opgehou om regtig in die spieël te kyk.Nie omdat sy nie wou nie…maar omdat...
19/07/2026

Die Vrou in die Gebreekte Spieël
Sy het lankal opgehou om regtig in die spieël te kyk.
Nie omdat sy nie wou nie…
maar omdat sy geweet het wat sy gaan sien.
Die Krake en die Seer.
’n Weerkaatsing van iemand wat sy nie meer herken nie. Elke oggend het sy voor daardie selfde spieël gestaan.
Haar hand liggies oor die koue glas laat gly…
versigtig, asof sy bang was dit sny haar weer.
Want dit hét al. Nie net die glas nie maar ook
die lewe.
Mense wat belowe het om te bly, maar geloop het.
Woorde wat sag moes wees, maar skerp gesny het.

Keuses wat sy gemaak het… en ander wat oor haar gemaak is. En elke keer het sy ’n stukkie van haarself verloor. Sy het probeer om dit weer bymekaar te sit. Elke gebreekte deel versigtig opgetel, probeer pas… probeer regmaak.

Maar niks het ooit weer heel gevoel nie.
“Wat as ek vir altyd so bly?”
het sy een aand gefluister, haar voorkop teen die gebreekte spieël. Trane het stadig oor haar wange gerol, soos reën wat oor gebreekte grond val.
Toe… in die stilte…het daar iets in haar hart geroer.
Nie ’n harde stem nie.
Nie ’n wonderwerk wat skielik alles verander het nie.

Net ’n sagte fluistering:
"Jy is nie klaar nie."
Sy het haar oë toegemaak. Vir die eerste keer in lank het sy nie na die krake gekyk nie…maar haar hande oopgemaak.
“Here… ek kan nie meer nie,” het sy gesê.
“Ek weet nie hoe om weer heel te word nie.”
En daar, in haar gebrokenheid, nie wanneer sy sterk was nie, maar juis toe sy niks oor gehad het nie, het sy begin voel hoe iets stadig in haar herstel.
Nie oornag nie.
Nie perfek nie.
Maar werklik.

Sy het geleer…dat sy nie die spieël hoef reg te maak nie. Sy moes net ophou om haarself daardeur te sien. Want God kyk nie na krake nie.
Hy sien die geheel. En stadig… dag vir dag…
het sy begin glo:
Dat selfs ’n gebreekte vrou weer heel kan word,
nie deur haar eie hande nie…maar deur Syne.

Jackie Jacobs ©️

MAKLIKER GESE AS GEDAAN“Makliker gesê as gedaan” is ’n ou gesegde wat vandag nog maklik misverstaan word.Deur baie van m...
17/07/2026

MAKLIKER GESE AS GEDAAN

“Makliker gesê as gedaan” is ’n ou gesegde wat vandag nog maklik misverstaan word.

Deur baie van my storms was niks maklik nie…

Maar tog is dit vir mense maklik om te sê: “Doen dit… doen dat…”

Maar die waarheid is dat dit is nie so eenvoudig is nie. Toe ek werkloos was, was die raad altyd:

“Gaan soek werk.”

Maar om werk te soek was nie die enigste uitdaging nie. Waar jy bly, tel soms teen jou. Ek bly 25 km van die naaste dorpe af....sonder vervoer.

So hoe kom ’n mens by ’n onderhoud?

Hoe begin jy werk as jy nie eens daar kan uitkom nie?

En dan kom die volgende werklikheid:

Brandstof kos geld… maar waar kry jy geld as jy nie werk nie?

Nie almal het mense wat kan help nie.

Maar deur alles het Vader vir my goeie vriende gegee wat my bygestaan het. Ek is vandag nog dankbaar...julle weet wie julle is.
Selfs nou sit ek nog sonder vervoer, al werk ek.
Om vir ’n motor te spaar is nie altyd moontlik nie…
maar ek glo dat die Here op Sy tyd ’n uitweg sal bring.
Net so is dit nie maklik vir elke vrou om uit ’n mishandelende verhouding te stap nie.

Mense sê maklik: “Los hom.”
Maar waarheen gaan sy?
Nie almal het familie nie.
Nie almal het vriende nie.
Nie almal kry plek in ’n toevlugsoord nie…en baie is eenvoudig net te bang.

Die waarheid is: Woorde is maklik.

Maar aksie… dit kos moed, hulp en genade.

Moenie net raad gee nie, wees die hand wat help, wees die skouer wat dra en wees die gebed wat opgaan. Laat die Here jou gebruik om iemand anders op te lig en hoop te bring waar daar min oor is.
“Dra mekaar se laste, en vervul so die wet van Christus.” – Galasiërs 6:2

Makliker gesê as gedaan… 💔

Ons is vinnig om raad te gee, maar stadig om regtig te help.

Nie almal se pad is dieselfde nie.

Kom ons wees mense wat optel, nie afbreek nie en

wat bid, ondersteun en saam stap.

Kom vertel ons jou storie, sê my wat julle d**k en hoe om verder vorentoe te gaan.

Jackie Jacobs ©️

’N BEGIN EN ’N EINDEDaar is iets besonders aan die manier waarop God die wêreld geskape het, met ’n begin… en met ’n ein...
09/07/2026

’N BEGIN EN ’N EINDE

Daar is iets besonders aan die manier waarop God die wêreld geskape het, met ’n begin… en met ’n einde.

Van die eerste asemteug van ’n pasgebore baba, tot die laaste dae van ’n ou mens, alles beweeg binne ’n tydsraamwerk. Soos ’n boek wat jy oopmaak en nie kan neersit nie, of ’n koek wat stadig in die oond rys… alles het ’n begin, en alles het ’n einde.

En tog, wanneer ons in die middel van ’n storm staan, voel dit asof die einde nooit sal kom nie.
Probleme begin selde groot. Dit begin klein… amper onopsigtelik. Maar met tyd groei dit, dit raak swaarder, dieper, donkerder. Dit steel jou vreugde, jou hoop, en soms selfs jou wil om aan te gaan.
Jy mag dalk vandag vra:
“Hoe kan iemand sê dit sal verbygaan?”
Die waarheid is, dit sal.

Nie omdat die lewe maklik is nie, maar omdat niks op aarde permanent is nie. Selfs jou pyn het nie die finale sê nie.
Daar is ’n gevaarlike plek waar ’n mens kan beland… wanneer jy begin glo dat daar geen uitkoms is nie. Wanneer jy self ’n einde wil maak aan iets wat nog nie klaar geskryf is nie.

Maar hoor dit vandag:
Jy hoef nie die einde te skryf nie want God het reeds die laaste hoofstuk in Sy hand.
Daar was baie kere wat ek ’n einde wou maak aan my lewe… en ook kere wat ek werklik probeer het. My voorgeskrewe slaappille het soms gevoel soos ’n uitwe, ’n manier om net stil te raak, om net vir ewig te slaap.

Maar die Here… het my nie laat gaan nie.
Hy het my vasgehou, selfs toe ek Hom nie kon voel nie. Selfs toe ek nie meer wou baklei nie.
Vir die grootste deel van my lewe het ek verwerp, geboelie, stukkend gevoel… en nog soveel meer.
Maar vandag… vandag staan ek anders.

Ek het ’n doel.
Al is dinge nie altyd maklik nie, weet ek nou wie ek is. Nie omdat die wêreld dit vir my gesê het nie… maar omdat God my identiteit herstel het.
Dalk soek jy ook antwoorde op plekke wat leeg is. Dalk probeer jy self alles dra, self alles regmaak.
Maar genesing begin wanneer jy oorgee.
Wanneer jy ophou terugkyk na waar alles begin verkeerd loop het, en begin vorentoe kyk, na waar God jou wil vat.

Want solank jy agtertoe kyk, gaan jy sukkel om die pad vorentoe raak te sien.
Vat Sy hand.
Laat Hom jou lei deur die onbekende, deur die pyn, deur die storms wat jy nie verstaan nie.
En soos jy stap—tree vir tree—fokus op wat voor jou is. Nie die golwe wat jou wil oorweldig nie, maar die rigting waarin jy oppad is.

Moenie opgee nie.
Dis nie die moeite werd om jou storie halfpad te los nie.

Selfs al voel dit of die storm nooit gaan bedaar nie, bly staan. Kry vir jou ’n anker.
En daardie anker… is God.
Klim op ’n boomstomp as jy moet. Gryp vas aan enigiets wat jou bo hou. Hou jou kop bo water.

En hou aan glo.
Want elke storm het ’n einde.
Elke nag maak plek vir oggendlig.
En jou storie…
jou storie is nog lank nie klaar nie.

Jackie Jacobs ©️

Address

Boksburg

Telephone

+27683614223

Website

Alerts

Be the first to know and let us send you an email when Blind Faith posts news and promotions. Your email address will not be used for any other purpose, and you can unsubscribe at any time.

Shortcuts

Share