30/11/2023
KRUMMELPAP....
Hoe was julle week? Myne was... soos die weer, die afgelope week.
Na 'n laaaaang en frustrerende dag, klim ek die aand in die bed en gesels met Vader.
Ek vertel van my woeste dag (so asof Hy nie weet nie), hoe lekker dit sal wees om dalk vir 'n paar dae niks en niemand te sien nie.
Verder praat ek van hoe Hy darem nie soos ek voel oor mense nie (SIEN JULLE HOE DIEP G*T EK VIR MYSELF GROU)
en so met daardie sin, nog vars in my gedagtes...
Hoor ek sag in my hart... My mercy is new every morning
Sjoe, ek ruk tot stilstand en stilte en buig voor God, want Hy stel my net daar reg.
Vanoggend dink ek nogsteeds oor Sy woorde, en weer kom ontmoet Hy my.
Dink aan 'n pot vars krummelpap, onmiddellik water my mond en ruik ek al die lekkerte.
"Maak jy vandag weer in gister se vuil , aangebrande pot pap? Gaan dit dan steeds so lekker wees?" vra Hy
Onmiddellik antwoord ek "Nee... "
"Nou hoekom doen jy dit met jou emosies, jy gaan net aan in gister se frustrasie en warboel..."
En ek besef dat dit presies is wat ek doen, gaan slaap moeg en oorweldig, en staan in daardie selfde toestand op.
Wanneer maak ek die pot skoon? Krap al die aangebrande dele en swart stukke uit, skrop myself bietjie skoon?
Dit is wat elke aand se laaste gesprek met Vader moet wees, 'n tyd en plek waar Hy my kan help om van die onsmaaklike dele in my lewe, ontslae te raak, veral die dele waarvan Hy nie hou nie.
Waarvoor ek vandag dankbaar is, is die feit dat Vader my kan reg help, met my verkeerde idees oor Hom. Ek is dankbaar dat daar vir my ook 'n nuwe oggend is, waar Hy my kom ontmoet, want Sy 'mercy' is nuut teenoor my.