02/10/2026
📻 VANDAG OM 13:25 OP RSG
Daar is iets besonders aan resepte wat mens aan ’n kombuistafel, ’n koppie koffie en goeie geselskap laat dink. ☕️
Vandag verwys ons op RSG ook na hierdie heerlike Driehoek-Cassata-Kaaskoek – ’n klassieke resep met groenvye, glanskersies, pekanneute en ’n tikkie lemoen.
Skakel 13:25 in en luister saam. 🤎
En daarna kan jy die resep hier kry om self te probeer:
DRIEHOEK-CASSATA-KAASKOEK
Bestanddele
* 125 g sagte botter
* 125 ml strooisuiker
* 1 eiergeel
* 1 houer (230 g) roomkaas, geklop tot glad
* 5 ml vanieljegeursel
* 30 ml rooi glanskersies, baie fyn gekap
* 3 heel groenvye in stroop, gedreineer en fyngekap
* 45 ml fyngekapte pekanneute
* Fyn gerasperde skil van 1 lemoen
* 24 Tennisbeskuitjies
Versiering
* 200 g melksjokolade, fyngekap
* 50 ml likeur, muskadel of melk
* Glanskersies en pekanneute, vir versiering
Metode
1. Maak die kaasmengsel
Verroom die botter en strooisuiker tot lig.
Klop die eiergeel by.
Voeg die roomkaas, vanieljegeursel, kersies, vye, neute en lemoenskil by.
Meng versigtig deur. Moenie die mengsel klop nie, want dit kan maklik skif.
2. Pak die beskuitjies
Lê ’n groot stuk aluminiumfoelie uit.
Rangskik 12 Tennisbeskuitjies daarop in ’n ry van 3 x 4 beskuitjies – 4 beskuitjies op die lengte van die foelie.
Smeer ’n kwart van die kaasmengsel oor die 12 beskuitjies.
Pak ’n tweede laag van 12 beskuitjies bo-op die eerste laag.
Smeer die oorblywende kaasmengsel hieroor.
3. Vorm die driehoek
Bring die kante van die foelie bymekaar sodat die beskuitjies ’n driehoek vorm.
Druk die kaaskoek met jou hande om ’n netjiese driehoek te vorm.
Vries oornag.
Versiering
Smelt die sjokolade tot glad.
Roer die likeur, muskadel of melk by. Klop goed.
Haal die kaaskoek uit die vrieskas en verwyder die foelie.
Smeer die sjokoladeversiersel oor die kaaskoek.
Versier met glanskersies en pekanneute.
Vries weer.
Sny skywe met ’n skerp mes.
Sit bevrore voor met koffie.
Lewer: 8–10 porsies.