03/06/2026
Billy van Zyl, voorsitter van die Nasionale Wolkwekersvereniging (NWKV), het in sy 2025/26-voorsittersverslag tydens die organisasie se 95ste jaarkongres, klem gelê op die organisasie se eeufees en waarna hy verwys het as ’n eeu van deursettingsvermoë, aanpasbaarheid en toewyding aan ’n bedryf wat ’n integrale deel van Suid-Afrikaanse landbou vorm. “Hierdie mylpaal,” het hy gesê, “bied ons die geleentheid om nie net terug te kyk op ’n trotse geskiedenis nie, maar ook om krities te besin oor die uitdagings en geleenthede wat die toekoms vir ons inhou. Soos die gesegde lui: You can cry over your past or choose your future.”
Van Zyl het tydens die kongres by Mentorskraal in Jeffreysbaai verwys na die kongrestema, “Ons eer ons erfenis, ons weef ons toekoms,” en gesê die NWKV is ‘n organisasie met ‘n sterk fondament waarop voortgebou kan word, maar dat die pad vorentoe ‘n eie verantwoordelikheid is.
Met verwysing na ongeveer ses jaar waarin wolpryse onder druk verkeer het, het die bedryf oor die afgelope anderhalfseisoen ’n sterk opwaartse beweging en hernude positiwiteit in beide die internasionale en plaaslike wolmark beleef. In die huidige seisoen is ’n styging van meer as 50% in die gemiddelde wolprys beleef. “Vir Suid-Afrika is dit bemoedigend dat ons wol steeds internasionaal erken word as ’n produk van uitstekende gehalte.”
Hy het ook na uitdagings verwys en veral klem gelê op die noodsaaklikheid van streng biosekuriteitsmaatreëls. Hy het spesifiek verwys na die feit dat Suid-Afrika in 2019 sy bek-en-klouseervrye status by die Wêreldorganisasie vir Dieregesondheid verloor het. Die NWKV het egter saam met die bedryf uitgebreide onderhandelinge met in- en uitvoerders gevoer om protokolle daar te stel waarvolgens Suid-Afrikaanse wol steeds uitgevoer kon word.
Nog ‘n belangrike aspek wat hy beklemtoon het, was die etiese, verantwoordelike en volhoubare produksie van wol op grond van standaarde soos die Sustainable Cape Wools Standard, Responsible Wool Standard, Nativa en ander stelsels. “Suid-Afrikaanse produsente is uitstekend geposisioneer om aan hierdie vereistes te voldoen en daaruit voordeel te trek,” het hy gesê.
Van Zyl het die NWKV se rigtinggewende rol uitgelig en klem gelê op die organisasie se visie ten opsigte van die opheffing van kommunale produsente sodat hulle in die formele bedryf opgeneem word. Aansienlike vordering is in hierdie opsig gemaak.
Hy het sy voorsittersverslag afgesluit deur sy gesin, die NWKV-personeel, produsente en die organisasie se vennote en borge te bedank vir hulle rol in die NWKV-suksesverhaal.
Op die foto is Billy van Zyl saam met prof Johann Kirsten.
NWGA Plaas Media BKB Hollard Zoetis Voermol Feeds SA OVK Shell Nedbank King Price Insurance Absa South Africa Umtiza Farmers' Corp Santam Insurance Ge**er & Co Clothing